Hallo dames, vir die wat my reeds ken stuur ek groot drukkie en vir die wat vir die eerste keer

vandag by ons aansluit stuur ek ook ‘n groot drukkie. My naam is Christi, en die doel van vandag

se inskrywing is om sommer net lekker te gesels oor ‘n paar mooi dinge.

 

Ek het grootgeword op ‘n kleindorpie en een van my lekkerste herinneringe uit daardie tyd was ons gereelde uitstappies na die dorpsbiblioteek. Êrens in die stapels boeke het ek op ‘n boekie, getiteld “Meisie, jy’s pragtig!”, afgekom, wat allerhande onderwerpe oor meisiewees en mooiwees aangespreek het. Ek vermoed dit was ‘n draaipunt in my dogtertjiehart. Hoewel die boekie reeds in die sewentigs gedruk is en ek proe-proe aan die ietwat oudmodiese taalgebruik gelees het, kon ek dit nie neersit nie. Die inhoud het my geÏnspireer om die lewe mooi versorg, met goeie maniere en netjiese kaste aan te pak.

Ek het die boekie herhaaldelik uitgeneem totdat my ma dit eendag in ‘n piepklein boekwinkel raakgeloop het en my eie een vir my gekoop het. Sedertdien, meer as drie dekades later, het my boek vol jongmeisiekennis steeds ‘n ereplek op my boekrak vir daai dae wanneer ek inspirasie benodig of sommer net deur die nostalgie bekruip word.

Vandag is so ‘n dag…en ek maak my geliefde boekie deur Char Crawford oop by hierdie lysie met “lawwe kunsies wat jou miskien sal help om ‘n bietjie meer te skitter”:

  • Probeer ‘n heeltemal nuwe haarstyl.
  • Kyk ‘n week lank nie televisie nie.
  • Pleks daarvan begin lees vir ontspanning en probeer dit geniet – ook ‘n paar van Robert Browning se liefdesgedigte.
  • Gebruik ‘n nuwe reukwater, maar pas op vir een wat te soet ruik.
  • Haal die gesinslede oor dat julle so af en toe by kerslig eet.
  • Gebruik ‘n badkussing in die bad en geniet ‘n skuimbad.
  • Gebruik ‘n geurige badseep met luukse reukwater of poeier daarna.
  • Laat jou hare groei/laat jou hare sny.
  • Plaas ‘n geursakkie in jou onderklerelaai.
  • Verminder jou massa met 3kg/vermeerder jou massa met 3kg.
  • Dra slenternagklere terwyl jy saans studeer.
  • Slaap op lakens met geblomde patrone.
  • Dra ‘n ornament met juwele (nie te duur nie) in jou hare na die volgende gala-geleentheid.
  • Berei ‘n heerlike gereg voor en nooi jou vriendinne uit.

En dadelik is my dag sommer minder blou. Ek onthou weer presies waarom dit soveel pret is om ‘n meisie te wees.

Ek het besluit om vorendag te kom met my eie lysie van kunsies wat my laat “skitter”:

  1. Oënskynlike onbenullighede
    Daar is min dinge wat my so gelukkig maak soos varsgebroude vroegoggendkoffie, mooi versorgde naels, ‘n netjiese handsak, drie lae maskara, kraakvars linne op my koperbed, ‘n goeie oefensessie, vanielje kerse of ‘n vaas met wit rose op my lessenaar of langs my bed. Ek besef van vooraf die belangrikheid van hierdie, op die oog af, nuttelose aktiwiteite. Julle, moenie die waarde van mooi rituele onderskat om jou te laat skitter nie. Maak ‘n lysie van daai tipe dingetjies en maak seker jy bou dit erens in jou dag in.
  2.  

  3. Stylvolle rolmodelle op my reis van meisiewees na vrouwees
    Ek onthou my ouma se eiesoortige eksentrieke manier van aantrek, haar kreatiewe benadering tot die lewe sonder om verskoning te vra. My ma wat my geleer het mens dra net natuurlike stowwe soos katoen, linne en leer en pak die lewe met natuurlike grasie aan. My balletjuffrou se stringe pêrels, sagte stem en regop postuur. My Tannie Joey wat die toonbeeld is van ‘n Spreuke 31-vrou. My vriendin Isabel wat altyd Europees lyk in Suid-Afrika. En natuurlik my vriendin Jeanine met haar passie vir stilering en om vroue te bemagtig. Wie is in jou lewe wat jou inspireer en uitdaag om die lewe stylvol en mooi aan te pak? Gaan dink bietjie en vier hierdie mense gereeld.
  4.  

  5.  ‘n Lysie van leuens
    ‘n Groot gedeelte van my lewe was gebaseer op “as ek net…dan sal…”. Ek was oortuig dat as ek net harder werk, net minder weeg, net mooier kan wees, net meer kan “skitter”, dan sal ek aanvaar word, gelukkig wees en nooit weer aan myself twyfel nie. Ek dink dankbaar daaraan dat my lysie van “as ek net” leuens aansienlik gekrimp het danksy die enigste ware bron van waarheid, naamlik Jesus. Ek onthou nederig dat tyd in die Woord heel bo-aan my lysie van “skitter” aktiwiteite moet wees, gekombineer met geestelik sterk vriendinne, want ek vergeet vinnig waar my vrede vandaan kom wanneer die lewe met my weg hardloop. God se genade is groot en Sy groot behoefte is om tyd met ons te spandeer, so moenie huiwer om bloot net ‘n psalm te lees as die dag dol begin het nie. En versamel vriendinne om jou om die geestelike reis saam met jou aan te pak.

Ons gesels gou weer. Onthou om te skitter  🙂 

xxx
Christi